15 Mei 2020 Nuusbrief

Covid-19, Nuus

Geliefdes

Verlede Sondag het ons gefokus op Jesus se woorde “Julle moet nie ontsteld wees nie”. Ons is ook steeds besig met ons Pinkstermateriaal. Eerskomende Sondag se erediens fokus op Johannes 14:15-21. Die dienste sal weerregstreeks op YouTube en Facebook uitgesaai word. Wanneer die uitsending tydelik onderbreek (soos dit verlede Sondag die geval was) wees net geduldig, dit sal weldra weer hervat. Op Facebook sal jy egter ná so ‘n onderbreking, weer die FGK Facebookblad moet laai om die regstreekse uitsending te hervat.

Omdat duisende gemeentes se eredienste tans regstreeks uitgesaai word, is dit onvermydelik dat daar onderbrekings en tegniese probleme sal plaasvind; ons sal maar baie geduld moet beoefen. Ons glo dat ons streef na “connection, not perfection”. Dankie vir jul begrip en geduld.

Na die President Woensdagaand sy boodskap gelewer het, is baie mense ontsteld. Elkeen van ons word deur hierdie krisis aangeraak. Laat ons dus aanhou om voorbidding vir die regering te doen, eerder as om te kritiseer. As gelowiges sal dit goed wees om te onthou dat Jesus nie net gesê het dat ons ons nie moet ontstel nie, maar ons ook uitnooi met: ”Glo in God; glo ook in My.”

Tydens hierdie krisis word ons genooi om verder te verdiep in ons geloof – of anders gesê, in ons vertroue op God en mekaar. Ons leer opnuut om te bid en om te kyk hoe God gebede beantwoord. Vir baie in ons land is die gebed: “Gee ons, ons daaglikse brood” ‘n gebed wat letterlik beantwoord moet word.

As gemeente is ons dankbaar dat ons soms die antwoord is op mense se gebede.  Hier is ‘n bietjie terugvoering in hierdie verband, sowel as ‘n oproep om hulp:

BEWEEGNUUS

Kleinsaal, groot uitwerking

Dit is mos hoe ’n kleinsaal in hierdie tye moet lyk!

Kleinsaal kosverspreiding

 

Deur bestaande goeie verhoudings en gepaardgaande magtigings maak FGK ’n verdere verskil gedurende die Covid 19 inperking. Doorway to Dignity en One Small Act of Kindness gebruik die kleinsaal as fasiliteringsruimte om broodnodige kospakkies te versprei. Hierdie is ’n mooi voorbeeld van hoe NGO’s, kerk en regering kan saamwerk tot voordeel van talle behoeftiges.

Dankie aan al ons lidmate wat ook in hierdie tyd bydraes lewer, sodat ons ons deure kan oophou en kan kerk wees. Meer kerk – nie minder nie.

Marthastraat 90 (MS90)

Daar is ’n spesiale behoefte vir vier rekenaars by MS90, sodat die kinders gedurende die inperking kan leer en werk. Ons vra gemeentelede om asseblief biddend te oorweeg om te help met ’n rekenaar of twee. Let asseblief daarop dat ons goeie rekenaars in ‘n werkende toestand benodig. As jy kan help met ‘n desktop en/of laptop, rig asseblief ‘n e-pos aan Schalk by admin@fgk.co.za

Noodfonds

Ons gemeente het ’n nuwe noodfondsprosedure geskep en persone kan aanlyn aansoek doen vir dringende noodverligting. Loer gerus na die webtuiste vir verdere inligting. Ons verfyn nog ons prosesse, maar die meganisme is daargestel en werkend.

AKTUA

Die Aktuagroep, bestaande uit ons senior lidmate, versorg mekaar op ‘n uitsonderlike manier onder die bekwame leiding van Gesie Marshall. Eerskomende Dinsdag om 9:30 gaan ons die Aktua-byeenkoms via Zoom fasiliteer. Die reëlings vir die kuier sal op die WhatsApp-groep deurgegee word. As jy deel wil word van hierdie groep, kontak gerus vir Gesie by: 0832261287

HEMELVAART EN PINKSTER VIR GESINNE

Eerskomende Donderdag 21 Mei is dit Hemelvaart. Dit is tien dae voor die Pinsterviering. Ons sal op Hemelvaart ‘n erediens om 18:00 uitsaai. As deel van ons Pinkstertyd gaan ons ook elke dag ‘n video aan die gemeente stuur.

Die kinderbediening het ook ‘n Pinksterreeks voorberei wat hier afgelaai kan word. Dié reeks vir gesinne begin volgende Donderdag en eindig op Pinkstersondag, 31 Mei.

ONS IS FGK

Ons besef al hoe meer die ryk kennis en vaardighede van ons gemeenskap. Gedurende die inperkingstydperk wil ons graag ‘n platform skep waar die gemeente sekere vaardighede  onderling by mekaar kan leer, wat behulpsaam kan wees tydens en na die inperking. Of dit nou is om ‘n kraan reg te maak, ‘n ordentlike pot koffie te brou, brood te bak, of ‘n wiel om te ruil; deel asseblief ‘n vaardigheid of vermoë wat jy het.

Hoe moet jy te werk gaan? Stuur asseblief jou idee vir ‘n video na jaco@fgk.co.za en hy sal jou help met ‘n paar riglyne.

Verlede week het Attie van Jaarsveld ons geleer hoe om ‘n lekkende kraan te herstel. Hierdie week kan jy luister na Santie Thomas, wat ons meer gaan leer oor waardes.

WEBBLAD

Ons Webblad word gereeld bygewerk met nuwe artikels en hulpmiddels. Die artikels is ingedeel onder BesinBehoort en Beweeg. Daar is ook skakels na die weeklise Bybelstudies sowel as die preke. Volg gerus die bogenoemde skakels vir die verskillende afdelings.

FINANSIES

Ons wil elke lidmaat bedank vir hul getroue finansiële bydraes.  Dit word opreg waardeer. Ons is op hierdie bydraes aangewese tydens die Covid-19 krisis om ons kreatiewe roeping as gemeente uit te leef.

FGK se bankbesonderhede is:
Fontainebleau Gemeenskapskerk
Absa
Tjek: 170580109
Takkode: 632005

Jy kan ook die volgende SnapScan-kode gebruik of hierdie skakel volg as jy op jou selfoon lees.

FGK Snapscan kode

Hierdie is die skakel om Snapscan te gebruik

Groete

Die Span

 

 

Hoe verskil ons van mekaar?

Hoe verskil ons van mekaar?

Hoe verskil ons van mekaar?   Volgelinge van Jesus kom partymaal tot verskillende gevolgtrekkings oor wat reg en verkeerd is. Een van die gedeeltes in die Bybel wat ons help om met hierdie realiteit te werk is Romeine 14:1-12. In 'n onlangse preek en Bybelstudie...

read more
Gemeenteraad kenmerke

Gemeenteraad kenmerke

Wat is die eienskappe van 'n Gemeenteraadslid? Wat is die kenmerke van iemand wat op die Gemeenteraad dien? Hier is ‘n kombinasie van Bybeltekste en formuliere van die NG Kerk wat kan help om iemand te nomineer en ook gebruik kan word deur die huidige lede om hulself...

read more
(Hoe) Kan ek verander?

(Hoe) Kan ek verander?

Verandering is 'n proses In 'n bekende Bob Newhart video kom vra 'n persoon hulp oor 'n vrees wat sy het. Hier is die snaakse video daaroor. Stop it! Hoeveel keer het jy al vir jouself gesê, "Ek gaan net...

read more
Beperkte inperking

Beperkte inperking

Beperkte Inperking Gemeentelede sal bly wees om te verneem dat FGK ’n Covid-19 Taakspan gestig het wat sake op ons perseel met oordeel bestuur. Sommige van ons huurders en gevolglik ons personeel is weer op die perseel. Gemeentelede moet asseblief nie kuier of kom...

read more
Toegangsroetes tot Veerkragtigheid (resilience)

Toegangsroetes tot Veerkragtigheid (resilience)

Dis warm, dis ongemaklik, dis seer. Daar’s vonke, vuur en ’n gedurige gekap: die oorverdowende geraas van staal op staal. Ons word eers in ’n vuur gloeiend warm gemaak en dan weer in yskoue water gedompel; daar’s ’n gesuis van stoom. Maar met elke warm-en-koudmaak...

read more
Trauma en hoe om daar vir mekaar te wees

Trauma en hoe om daar vir mekaar te wees

In hierdie tyd gesels die Sielkundige Lollie Smith oor ons ervarings in Covid-19. Sy bespreek dat ons tans almal deur trauma gaan en dat dit ons gedrag wat sy as goggas beskryf na vore laat kom. Sy help ons ook om te dink hoe ons vir mekaar goed kan wees in hierdie...

read more
Share This