
As gemeente glo ons dat ons primêre doel is om die Here lief te hê met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste soos onsself. Om in ‘n verhouding met die Here te staan is die uitnodiging om te Besin. Hierdie uitnodiging nooi ons om vriendskap met God te bou. As dit nie was vir Jesus wat self gesê het, “Ek noem julle nie meer slawe nie, maar vriende” sou dit belaglik gewees het om te dink dat ons in ‘n vriendskap met God kan staan. As gemeente glo ons dat hierdie Besinning op verskillende maniere uitgeleef word. Op Sondae aanbid ons saam in die erediens en bou ons verhouding met die Here deur die liturgie van aanbidding en Woord verkondiging. Ons vier ook die sakramente saam.
Ons groei ook in ons interaksie met God deur die beoefening van geestelike dissiplines. Hierdeur maak ons spasie vir God se Gees om ons te vorm na die beeld van Jesus. Hierdie interkasie met God word gebou saam met ander gelowiges maar ook in ons eie gebedslewe. Ons ontwikkel weeklikse materiaal om groepe en individue te help met hulle geestelike vorming.
Soms nooi ons ook gemeentelede om spasies van afsondering in hulle lewens te skep. Party mense noem dit ‘n retreat, ons verwys soms na dit as ‘n oomblik van stilte. Op hierdie bladsy sal jy verskillende hulpmiddels kry wat jou kan help om te Besin.