Gebedsmateriaal : Oktober
Ons is opgewonde om die gebedsmateriaal vir Oktober bekend te stel. Ons sal dié materiaal daagliks WhatsApp. As jy dit wil ontvang, registreer asb met hierdie skakel.
Dit kan ook hier afgelaai word.
Oktober gebedskalender : dankbaarheid
Die tema vir ons daaglikse gemeentegebede is hierdie maand dankbaarheid, en wanneer die Skrif ons aansê om dankbaar te wees, is daar geen duideliker opdrag as 1 Tessalonisense 5:16-18 nie, naamlik: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Luister gerus na die inleiding hier bo – of lees die stuk rustig deur:
Niks los ’n meer bitter smaak in mens se mond as iemand anders se ondankbaarheid nie: “hy’s hier weg met sy hande propvol en hy’t nie eers dankie gesê nie … ongeskik!”. Van jonks af leer ons die belangrikheid van dankbaarheid in ons kultuur en geloof… “Sê dankie vir die Tannie”, “Dank Vader hulle het niks oorgekom nie.” Maar ongelukkig word goeie maniere of ordentlikheid met oënskynlike dankbaarheid vermom: “Ons waardeer julle navraag”; “dankie vir die sout aangee.” Hierdie tipe dankbaarheid is wat ons oppervlakkige dankbaarheid kan noem of bloot net goeie maniere. Dis belangrik om nie die fout te maak om dankbaarheid met goeie maniere te verwar nie. Opregte dankbaarheid loop baie dieper.
Dankbaarheid kan spontaan van aard wees: “Haai, kyk die sekelmaan op die horison!” “Ek’t sopas die beste nuus gekry …”. Ons harte kan tot dankbaarheid geroer word deur die drama van die natuur of ’n verassing. Die dankbaarheid wat mens voel wanneer mens na die hemelruim kyk is wat filosowe na verwys as ‘kosmiese dankbaarheid”; ’n dankbaarheid wat nie noodwendig op iets of iemand gerig is nie maar ’n meer as ’n oorweldigende gevoel beskryf kan word, ’n gevoel dat mens deel is van iets groter of selfs net ’n dankbaarheid vir mens se eie bestaan in ’n wêreld wat vrylik gegee is.
Dankbaarheid hoef nie altyd spontaan van aard te wees nie dit kan ook vorm vat as deel van ’n belangrike ritueel, dink aan die nagmaal. Die Griekse woord vir die Nagmaal (Eucharist in Engels) is eukharistia wat dankbaarheid of danksegging beteken. Wanneer ons aan die Here se tafel sit dink ons terug met dankbaarheid aan wat Hy vir ons gedoen het op die kruis van Golgota; ons dink met diep dankbaarheid met die breek van die brood aan die liggaam van Christus wat vir ons gebreek is – ons dink met diep dankbaarheid, wanneer ons die wyn / sap drink, aan die bloed van Christus wat vir ons uitgegiet is ter vergewing van ons sondes. Deur die instelling (ritueel) van die nagmaal, eukharistia, sê ons dankie vir ons ewige verlossing. Dankbaarheid as ritueel kan soms ook in die werkplek of by die huis voorkom wanneer kollegas of familielede vir mekaar sê wat dit is wat hulle van mekaar waardeer. In hiedie opsig is dankbaarheid ook ’n manier van erkenning gee.
Mens kan ook dankbaarheid ‘kweek’ ast’e ware. Dankbaarheid kan ’n gewoonte of praktyk word. Die Engels beskryf dit goed: “Gratitude as a practice”. Die woord ‘practice’ herinner ons dat ons dankbaarheid kan oefen, en beter kan word met tyd in ons beofening daarvan. Dink aan Jacco Viljoen wat die tjello so mooi speel … Jacco het nie net die tjello opgetel en Vivaldi se ‘Spring’ die eerste keer gespeel nie. Nee, dit kom na jare se oefening! Net so kan ons beter word in ons beoefening van dankbaarheid deur ons aksies. Ek wonder hoe sou dit wees as ons verbied was om die woorde ‘dankie’, ‘dankbaar’, ‘waardeer’ te sê. Hoe sou mense geweet het dat ons werklik dankbaar is teenoor hulle? Hoe sou ons ons dankbaarheid teenoor God kon bewys sonder woorde of liedere van dankbaarheid? Dis maklik om te sê dat iemand anders moontlik die goeie intensie van jou hart kan raaksien of dat God na die hart kyk maar dis ’n tipe dankbaarheid wat nie baie kos nie. Dankbaarheid wat bewys word deur aksie; ’n dankbaarheidspraktyk (gratitude practice) – ek kan myself indink dat Schalk van Heerden hierdie sou vertaal as: “Nie net praat nie maar ook doen!”
Ek’t groot geword met die lerieke: “Dis weer Oktober die mooiste maand” maar by FGK het ons, ons eie ‘jingle’ (ek weier om dit as ‘klingel’ te vertaal) wat as volg klingel (ek kan nie glo ek’t sopas klingel gesê nie): “Tiende maand is dankmaand!” Ons daag mekaar gewoonlik gedurende die tiende maand uit om ons dankbaarheid deur dankbaarheidspraktyke (aksies) te bewys. ’n Dankbaarheidspraktyk kan menigte vorme aanneem bv. ets vir iemand doen of gee sonder erkenning te soek of om te gee en anoniem te bly. Ons het die vryheid om vindingryk te wees met hoe ons kies om ons dankbaarheidspraktyk te beofen. Ons kan ook besluit om tiendemaand letterlik op te neem en ’n tiende (of selfs meer) vir die Here te gee om ons dankbaarheid te bewys – nie net in woord nie maar deur ons aksies. Is daar iets waarvoor ons dankbaar voel teenoor mekaar? Teenoor die Here? Is ons opreg dankbaar vir hoe ons deurgedra was gedurende hierdie krisis? Wat kan ons doen om ons dankbaarheid aan God te bewys? (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen Matt. 6:3).
Dankbaarheid bewys deur aksie (’n dankbaarheidspraktyk te kies gedurende dankmaand en dit beoefen) het ook ’n rimpeleffek: dit voel goed om te gee en die goeie gevoel wat opregte dankbaarheid bewys deur stil aksie lei dikwels na ’n opregte begeerte om meer vrygewig te wil lewe. Tiende maand is dankmaand: kom ons gaan saam op ’n reis om ons dankbaarheid te bewys; nie slegs deur woord nie maar deur aksie.
- Geskryf deur Jean Pelser