Gebedsmateriaal : Gestroop ‘n reis in die wildernis
Ons is opgewonde om die gebedsmateriaal vir Lydenstyd 2021 bekend te stel. Laai gerus die pdf hier af. Jy kan ook die uitgedrukte boek by die eredienste kry of een by die kerkkantoor kom afhaal.
LYDENSTYD (LENT)
Lydenstyd is ons voorbereidingstyd vir Paasfees; ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk met dankbaarheid, erns en pyn die kruis van Jesus vier; dit wat vir ons verlossing bewerkstellig het.
Waar kom Lydenstyd vandaan?
Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu, in navolging van die Oosterse kerk, begin om as voorbereiding vir Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Die getal 40 dui op die voetspore van Jesus, Moses en Elia. Die vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd per dag sonder vleis, geëet is. Omdat Christene nie op Sondae (die opstandingsdag) gevas het nie, begin Lydenstyd op ‘n Woensdag (Aswoensdag), 46 dae voor Paasfees (vir 40 dae en ses Sondae).
Wat gebeur in Lydenstyd?
Lydenstyd is ‘n tyd van voorbereiding en hertoewyding. Ons maak plek om God, onsself en ander mense te kan hoor. Die geestelike dissiplines/gewoontes, wat spesifiek met Lydenstyd vereenselwig word, is: verootmoediging, skuldbelydenis en aalmoese.
Ons gaan hierdie jaar na hierdie gewoontes verwys as:
- Maak plek (vas)
- Maak tyd (gebed)
- Maak minder (gee weg)
Dit is so ‘n voorreg om aan ‘n kerkseisoen deel te neem wat al vir eeue deur ons geloofsgenote gebruik word. Ons vier Lydenstyd met ‘n bewustheid dat broers en susters in gemeentes oor al die kontinente heen dit saam met ons vier.
Lydenstyd bied ‘n geleentheid om gestroop te word van al die onnodige stemme en invloede wat ons aandag aftrek van Christus as Hoeksteen in ons lewens. Die kruis herinner ons weer en weer dat daar geen skeiding is tussen ons en God nie – die skeiding is gestroop.