Klaaglied

In die week van 11 Julie is ons land tot stilstand gebring deur die gebeure in die land. As leraars het ons die gemeente gevra om die antieke dissipline van klaag te beofen. Hieronder is die video uitnodiging tot klaag en van die klaagliedere wat ons ontvang het. In die opvolg video gaan ons klaag van gebed na veredere aksies.

______________

Ek is OOR dit!
Oor mense wat breek eerder as wat hulle bou!
Oor mense wat roof, steel en plunder.
Oor almal wat kerm en ’n swerm ellende.
Oor anti-vaxxers, fake news en FACEBOOK.
En dan is daar nog die VIRUS.
Wat letterlik en figuurlik oor ons lippe dans.
Soos Skoppensboer ons pret beloer.
Ons mooiste land is in sy mo**.
Here, waar is JY? Here, wat maak JY?
Wat is die plan? Is daar ooit ’n plan.
Die vyeboom is vrek, die olyfoes het misluk.
Die beeskraal het g’n enkele bees…
My blydskap sonder gees.
Natuurlik wil ek jubel, wil ek juig…
Maar dis moeilik, as als afwaarts neig.
Here, waar is JY? Here, wat maak JY?
Wat is die plan? Is daar ooit ’n plan.
Cyril weet nie meer hoe om te help,
die WGO probeer homself laat geld.
Zuma eet ryspap in die tronk, of miskien dalk ook kaviaar…
Terwyl ons stres oor gevaar.
Kom red ons, asseblief.
Ons land, ons mense, dié wat ons lief…
Vitamiene C en ook D, sink en saturasie,
Is daar nog hoop vir ons nasie?
Here, hoor my, ek roep en roep.
Ek is OOR dit.
Genoeg is nou genoeg!

____________

KLAAG GEBED

Here God wanneer ek in die verlede teenoor U gekla het oor die heengaan van geliefdes, ernstige siektes en finansiele probleme, het U my altyd ondersteun en vertroos.

Daarom dat ek die vrymoedigheid het om met my geklaag na U te kom…..HERE HELP ASSEBLIEF!
Ons land brand, nie net as gevolg van die droogte en droë velde nie, maar deur mense wat roekeloos wil vernietig en onrus saai. Biljoene Rande is verlore deur geboue wat afgebrand is, goedere wat weggedra en werksgeleenthede wat verlore is. Mense is honger.
Dan is daar nog Covid – mans en vroue sterf deur die pandemie. HERE HELP ASSEBLIEF! Moet asseblief nie U gesig van ons wegdraai nie. Ek smeek dat U U liefde en goedheid en krag weer aan ons totale bevolking sal bewys.
Vul my met U Gees dat ek met simpatieke oë en ‘n deernisvolle hart, gevul met liefde, na mense met hulle behoeftes en probleme sal kyk en nie sal oordeel nie, altyd dankbaar vir U seëninge wat op my neer reën.
In die naam van JESUS.

AMEN

__________

Klaaglied:
My hart is só seer
omdat die weerloses,
die wat reeds so swaar kry,
as gevolg van die oproer
nou net nog swaarder kry
en vir ‘n lang ruk nog…
nog swaarder gaan kry.

____________

Klaaglied in hierdie tyd in SA: Die kompleksiteit van die huidige situasie in SA voel te groot, te breed en te diep om te red. Dis nie net een probleem op een vlak nie. Dis ‘n magdom probleme wat spruit uit’ n geskiedenis van verdeeldheid, ongelykheid, onregverdigheid, korrupsie, armoede, rassisme en die klaarblyklike onvermoe om deur dialoog en positiewe aksie uit hierdie groewe te kom na ‘n beter toekoms. Gooi die sielkundige effek van gedeelde trauma agv die pandemie en al die nagevolge van beperkte sosiale kontak met ander en die abnormaliteit van die laaste jaar by hierdie mengelmoes dan sit ons met’ n drukkoker wat wag om te ontplof. Die uiteinde lyk nou net nog soveel verder. Die oplossings soveel minder en die hoop op tree vorentoe sak al meer. Die situasie lyk so geweldig hopeloos. Die skade is so groot. Die vertroue so gebreek. En al die vordering in die regte rigtings nou weer verwoes. Mense gaan nou weer na hulle default settings en die ou veralgemenings en geerfde idees en nare voorveronderstellings kruip weer terug. En ons is almal moeg. Te moeg om die vredemakers te wees want om ‘n vredemaker te wees beteken soms jy moet baklei. Baklei teen jou eie default settings en baklei teen jou eie mense en baklei teen die pessimisme wat heers. En as ek Klaagliedere lees dan besef ek dit het al BAIE erger met mense gegaan. Ons is nogsteeds geseend en bevoorreg en gevoed en versorgd en warm. In skreie kontras met ons medeburgers net oorkant die snelweg. Wat my die meeste ontstel van hierdie situasie is juis dit: dat die uiterste pole van armoede en rykdom, opgevoedheid en ongeletterdheid, korrupsie en eerlikheid reg langs mekaar sit en dat wat op die oomblik aangaan daardie pole net verder uitmekaar druk. En dat die swakstes in die samelewing net meer en swakker word. Ek kon nog altyd dink “as die regering net dit of dat doen dan sal dinge beter gaan”. Maar nou het ek geen meer oplossings nie. Dis my elle lange klaaglied.

____________

Here ek will net vir U baie dankie kom se. Dankie dat U heers al gaan dit nie goes nie. Dankie dat U die Groot Ek is is ten middle van chaos. Dankie dat U alles ten goede laat meewerk vir die wat na U voornemens geroep is al sien ons dit nie om ons nie. Ek will U loof en prys daarvoor

Share This