SKATKIS

Ons Skatkis projek skop af in hierdie tweede week van Lydenstyd. Dit is ‘n tydelike Tweedehandsewinkel met kosbare items. Hieronder volg ‘n verduideliking asook praktiese riglyne oor die drie fases van die projek:

Hoekom Skatkis?

Ons is al in die tweede jaar van ‘n pandemie! Ons glo God roep ons om op kreatiewe maniere, meer kerk te wees, nie minder nie.

Fondswerwing: Weens die inperking is daar baie mense wat finansieel swaarkry en die gemeente self benodig fondse om skuldvry en volhoubaar te kan bly. Ons wil regtig goed doen met hierdie projek, sonder om vir mense net geld te vra. Ons glo dat hieruit ‘n storie van groot vrygewigheid en samehorigheid gaan ontvou.

Samehorigheid: Ons vra dat elke liewe lidmaat iets sal bring wat in die Skatkiswinkel verkoop kan word. Ons wil graag op ‘n positiewe manier terugveg teen die uitdagings en negatiwiteit van die pandemie. Hierdeur het ons ook die geleentheid om lekker saam te werk.

Lydenstydreis: Ons tema vir hierdie jaar se Lydenstyd is Gestroop. Soos ons deur ons huise (en erwe) stap, maak ons hierdie ‘n gebedsaak. Ons dink nie net aan ‘wat het ons nie nodig nie’, maar ‘watse geskenk wil ek gee vir God se werk’? Ons wil kwaliteit-items gee wat verkoop kan word; items wat iemand tot seën sal wees. Ons stroop onsself van materialisme en individualiteit, tot voordeel van hulle wat minder bevoorreg is.

Die wins gaan toegeken word aan die Beweeg-deel van ons begroting wat aangewend word om ‘n verskil te maak binne ons gemeenskap.

Wat gebeur volgende?

Daar is drie duidelike bewegings/stappe:

Wat sal/wil ek koop? Ons vra almal om asseblief te laat weet watter items hulle dalk tweedehands sou koop. Die rede is eenvoudig: jou behoefte laat    iemand anders dalk besef wat hulle het om te gee.

Wat bring ek? Ons fynkam en onderskei watter items ons wil skenk. Ons dink aan die idee van ‘n blymoedige gewer en om werklik lekkerkry vrygewig te wees; die tipe gebare wat ander mense in hul geloofsreis sal inspireer. Elkeen word gevra om ten minste een item te bring, maar jy is welkom om sommer ‘n hele paar items te bring. Ons maak skoon; ons ontdek ‘n nuwe wêreld van eenvoud; ons bring iets wat in kontant omskep kan word.  Neem asseblief ‘n foto van jou skenkings en stuur dit solank in as ‘n aanduiding van verbintenis.Whatsapp die gemeentenommer of kontak Jean Pelser by office@fgk.co.za

Verkoop! Al begin ons dadelik bemark, sal die groot fokus op verkope in April afskop. Ons het dus die hele Maartmaand om in te samel en dan begin ons en ons vriende koop en ons nooi veral nie- gemeentelede om ook te kom koop. Ons glo daar gaan fantastiese winskopies wees.

Vinnige sukses!
Ons het reeds die volgende ‘versoeke’ of aanduidings ontvang van items wat ‘in demand’ is:

Tafeltennistafels,Waterpas“Grinder,Sweismasjien,Yskas,Vrieskas,Matras,Vislyn,Emmers,Braaistand,Gasbottels,Verwarmer,Waaier,Kinderspeelgoed,Meubels,TV’s,Slimfone,Selfone,Lampe, Gewigte vir gymnasium, Perdesaal en -toom, ens.

Items reeds ontvang:

Kragopwekker, saal, visstokke, klavier, petrolkan, skopfiets, bande, sleepwa, koffiegrinder, geelhoutspieël, bababed, ens …


Ons sal julle gereeld op hoogte hou met nuusbrokkies en getuienisse. Daar was al reeds twee ’matches’ waar dit wat gesoek word en gegee kon word, ooreengestem het!

Share This